Meer oor ons

AGTERGROND

Suid-Afrika spog met van die skerpste reklamekoppe in die wêreld. Die groot aantal internasionale reklametoekennings wat jaarliks deur plaaslike reklame-agentskappe opgeraap word, getuig daarvan.

Die Pendoring-reklametoekennings is in 1994 deur al die toonaangewende Afrikaanse mediarolspelers in die lewe geroep om uitmuntende Afrikaanse reklame te erken en te bekroon.

In dié opsig het Pendoring sedert sy totstandkoming in 'n gesogte geleentheid op die reklamekalender ontwikkel met aansienlike kontantpryse vir kategoriewenners, beurse vir studente en 'n oorsese studiereis vir die Prestigepryswenner.

Die afgelope veertien jaar het Pendoring egter veel meer as net 'n bekroningsgeleentheid geword: dit het bestendig in 'n deurlopende veldtog ontwikkel wat hom sterk beywer vir 'n groter bewustheid by bemarkers, reklameskeppers én Jan Publiek van die belangrikheid van Afrikaanse reklame en bemarking - met die prestigeryke jaarlikse Pendoring-reklametoekennings steeds die hoogtepunt.

Deur Pendoring snoer die skeppers van reklameboodskappe (agentskappe), die boodskappers (media) en die hartklop van Afrikaanse kommunikasie (verbruikers), inderwaarheid kragte saam, om sodoende 'n sterk anker vir Afrikaans te verseker.

Maar Pendoring is ook trots deel van die Suid-Afrikaanse geheel, vandaar die skepping van die kategorie Eg Suid-Afrikaans vir die bekroning van die veldtog wat dié trots oor al elf amptelike tale heen die beste vergestalt.

Pendoring is ook uniek in soverre dit die enigste kompetisie is waar tradisionele mediamededingers hul onderlinge verskille opsy skuif om saam te werk om hul gemeenskaplike doelwitte te bereik, naamlik die erkenning en beloning van voortreflike Afrikaanse reklame, asook die beklemtoning van die belangrikheid van Afrikaanse bemarkingsboodskappe.

Vir die vyftiende agtereenvolgende jaar nooi Pendoring reklame-agentskappe en maatskappye wat die waarde van Afrikaanse reklame aan 'n beduidende en gesogte marksegment besef, om uit te haal en te wys, en vir die Pendoring-reklametoekennings in te skryf.

DOELSTELLINGS

Ofskoon die bedryf en reklamelui jaarliks oorspoel word deur reklamekompetisies en -toekennings van elke kleur en geur, is Pendoring die enigste kompetisie in sy soort wat hom toespits op die bevordering van voortreflike Afrikaanse reklame - wat ongetwyfeld die beste manier is om regstreeks tot Afrikaanssprekendes se koppe en harte deur te dring.

Om Afrikaans in dié veranderende tyd sy regmatige plek in die reklamelandskap te laat inneem, speel Pendoring in 'n al hoe belangriker rol.

Die dae is verby dat Afrikaans aan die agterspeen suig. Afrikaans blom soos nooit tevore nie, veral op musiek- en mediagebied. Selfs nie-Afrikaanssprekendes glip toenemend oor in 'n gemaklike Afrikaanse spreektaal.

Te meer, met 'n unieke plaaslike 'geur en kleur', skitter Afrikaanse publikasies soos klokslag by toonaangewende koerant- en tydskriftoekennings soos ATKVeertjie, AdMag en Pica.

Afrikaanssprekendes het as't ware uit hul kokon gebreek en praat openhartig van hul steun en liefde vir hul moedertaal. Trouens, Afrikaansspekendes smag na meer Afrikaans en dwing die sakewêreld om kennis te neem van die Afrikaanse verbruiker en sy behoeftes.

Dit strek egter veel wyer as net die emosionele.

Ondanks die emigrasie van talle Suid-Afrikaners, Afrikaanssprekendes inkluis en die huidige ekonomiese afswaai, het Afrikaanssprekendes as groep steeds formidabele koopkrag in Suid-Afrika. Dít blyk uit gesaghebbende navorsing soos die Alle Media Produkstudie (AMPS) en verskeie ander studies.

  • Afrikaanssprekendes vorm sowat 15% van die Suid-Afrikaanse bevolking, maar is verantwoordelik vir sowat 28% van die land se totale huishoudelike besteding.
  • Afrikaans is, naas Zoeloe en Xhosa, die grootste huistaal.

Maatskappye wat die sakesin besef om in Afrikaans te adverteer, pluk die vrugte!

Deur in Afrikaans te skep en te adverteer en vir Pendoring in te skryf, is egter ook 'n belegging in die voortbestaan én die ontwikkeling van vernuwende en kreatiewe Afrikaanse reklame. Dit lei nie net tot 'n gesonde en dinamiese reklamebedryf nie, maar is ook 'n belegging in die toekoms van die Afrikaanse media.

Moenie die taal afskeep nie! Praat met Afrikaanssprekendes in hul moedertaal, en hulle sal vinnig hulle beursies omdop! Stuur jou Pendoring-inskrywings, en jy sal ook die vrugte daarvan pluk!